Het jy en jou kinders al aangesteek? Sê ja!

Met die huidige Corona-virus wat ons almal in die gesig staar, is een van die vrae wat ons mekaar afvra: “Het jy en jou kinders al aangesteek?” Hopelik kan ons nee sê, maar alhoewel ons alles in ons vermoë doen om onsself en ons kinders veilig te hou in hierdie tyd, is daar ‘n moontlikheid dat ons wel kan aansteek.

Hierdie artikel is egter nie ‘n mediese artikel wat handel oor die Corona-virus nie. As spraakterapeut is een van my groot passies die belangrikheid van lees van stories aan kinders! Soos wat ons gebombardeer word deur onder andere die nuus, geselsprogramme, sosiale media en kennisgewings oor die virus, sou ek graag van soortgelyke geleenthede gebruik wou maak om mense wêreldwyd te bombardeer oor die belangrikheid van lees van stories aan kinders. Die lees van stories aan kinders moet soos ‘n virus wees wat ouers en kinders wêreldwyd aansteek, maar op ‘n positiewe manier.

Hierdie virus sou ek die WLK-virus noem. As ons die vraag gevra word: “Het jy en jou kinders al aangesteek?” moet ons “JA!!” kan sê. Die WLK-virus staan vir: Woordeskat, Luistervaardighede en Kwaliteit-tyd. Daar is verskeie voordele verbonde aan die lees van stories aan kinders, maar die positiewe effek wat lees op die ontwikkeling van kinders se woordeskat en luistervaardighede het, sowel as die deurbring van kwaliteit-tyd met mekaar, is vir my die belangrikstes.

Woordeskat

Navorsing toon dat daar ‘n groot verband is tussen kinders se taalvaardighede wanneer hulle begin met skool en hul latere akademiese vordering. Een van die beste maniere om ‘n kind se woordeskat en begrip te bevorder, is deur stories aan hulle voor te lees.

Albert Einstein het gesê: “If you want your children to be intelligent, read them fairy tales. If you want them to be more intelligent, read them more fairy tales.” Onderstaande tabel vergelyk die aantal minute wat daar aan ‘n kind voorgelees word (of die kind later self lees) per dag met die aantal woorde wat hulle per jaar hoor (Nagy & Herman, 1987).

Luistervaardighede

Deur stories aan ons kinders voor te hou, oefen ons hulle luistervaardighede naamlik dat hulle inligting inneem en verwerk deur middel van hulle gehoorsintuig.  In ‘n wêreld waar kinders soveel visuele blootstelling ontvang deur verskillende skerms, moet ons seker maak ons ontwikkel hulle luistervaardighede voldoende.

Een van die beste maniere om dit te doen is om stories aan hulle voor te lees.

Stories hoef nie altyd in boekformaat te wees nie.  Namate ons kinders ouer word kan ons hul luistervaardighede verder ontwikkel deur stories in oudioformaat aan hulle voor te hou.  Daar is verskeie Toeps en webtuistes met stories en e-boeke waarna ons kinders kan luister, veral in die oggend oppad skool toe of in die middag terug huis toe.  Radio’s, slimfone en tablette kan hiervoor ingespan word.  Die kreatiewes onder ons kan sommer hulle eie stories uitdink en vertel.

Kwaliteit-tyd

Deur stories vir ons kinders te lees, gee dit ons die geleentheid om kwaliteit-tyd met hulle deur te bring.  Maak storie lees deel van julle aandroetine, waar julle na ‘n lang dag rustig langs mekaar kan sit of lê en ontspan met ‘n boek voor slapenstyd.

Waar een van die Corona-virus se slagspreuke is: “Flatten the curve,” is die WLK-virus se slagspreuk: “Increase the curve!”  Mag ons hierdie tyd gebruik, waar ons aangemoedig word om by die huis te bly, om positief aan te steek met die WLK-virus en “JA” te antwoord op die vraag:  “Het jy en jou kinders al aangesteek?”

Geskryf deur:  Hélmien Aucamp
Spraak-taalterapeut
aucamp.helmien@gmail.com

Nagy W.E., Anderson R.C. and Herman P.A. (1987). Learning word meanings from context during normal reading. American Educational Research Journal, 24(2), 237-270.

Onlangse Bydraes

Kategorieë

Nog Bydraes

Ontvang ons weeklikse nuusbriewe