Normale gehoor is noodsaaklik vir normale taal- en spraakontwikkeling vanaf die dag wat ‘n kind gebore is.  Daarom word gehoorsifting sterk aanbeveel tydens mamma en baba se verblyf in die hospitaal na die geboorte.  Indien ‘n gehoorverlies geïdentifiseer is en intervensie plaasvind tussen 6 en 9 maande oud, is die moontlikheid groot dat die baba dieselfde taal- en spraakuitkomste sal hê as horende kinders.  In ontwikkelde lande is die prevalensie van gehoorverlies 3 uit 1000 babas [3], in Suid-Afrika is die prevalensie 6 uit 1000 babas weens die tekort aan dienste in landelike gebiede [1,2].

Normale ouditiewe prosessering is nodig as deel van lees- en spellingvaardighede.  Ouditiewe prosesseringsprobleme is wanneer die kind normale gehoor het, maar hy verstaan ouditiewe inligting nie dieselfde as ander kinders nie.  Dit is omdat die brein en oor nie heeltemal koördineer nie, iets meng in met die manier waarop die brein klank herken en interpreteer, veral spraak.  Met ander woorde dit is wat jou kind se oor doen met dit wat hy hoor.  Die prevalensie van ouditiewe prosesseringsprobleme is 3 – 5 % van skoolgaande kinders [4].

Wat is die effek van ouditiewe prosesseringsprobleme?  Lees en spelling word negatief beïnvloed.  Daarom is dit belangrik om dit te identifiseer en aan te spreek deur middel van terapie.

 

Ouditiewe prosesseringsvaardighede

 

  • Ouditiewe diskriminasie: Die vermoë om geringe verskille tussen klanke, lettergrepe en woorde waar te neem, bv. p/b; 13/30; son/somIndien ‘n kind probleme ervaar met ouditiewe diskriminasie gaan hy sukkel om te hoor watter klank ‘n woord mee begin en die woord pad heel moontlik skryf as bad omdat hy sukkel om te onderskei tussen die p en b.  As juffrou sê skryf die getal 15 gaan hy moontlik 50 skryf omdat dit vir hom moeilik is om te onderskei tussen die lettergrepe -tien en -tig.

 

  • Ouditiewe sintese: Die vermoë om klanke of lettergrepe saam te voeg om ‘n woord te vorm, bv. s + o + n = son of te – le – vi – sie = televisie.  Indien ‘n kind probleme ervaar met ouditiewe sintese gaan hy sukkel om die klanke wat hy aanleer saam te voeg om sinvolle woorde te vorm en sodoende word lees negatief beïnvloed.  Indien die kind die woord tas voor hom sien, gaan hy elke klank individueel kan klank weens sy klankkennis, maar nie die klanke kan saamvoeg om die woord te vorm nie.    

 

  • Ouditiewe analise: Die vermoë om woorde in afsonderlike klanke of lettergrepe op te breek bv.  kat = k – a – t.   Indien ‘n kind probleme ervaar met ouditiewe analise gaan hy sukkel om woorde in klanke op te breek en sodoende word spelling negatief beïnvloed.  Die kind sukkel om te hoor met watter klank die woord begin, watter klank in die middel is en watter klank aan die einde van die woord voorkom.

 

  • Ouditiewe sluiting: Die vermoë om klanke of inligting in te voeg wat nie volledig gehoor word nie, bv.
    _iegtuig = vliegtuig of Trek ‘n ______ onder die datum = Trek ‘n lyn onder die datum.  Met tye gebeur dit dat die oordrag van juffrou se boodskap negatief beïnvloed word deur bv. ‘n vliegtuig wat oor die klas vlieg, ‘n stoel se poot wat dalk raas as die stoel geskuif word, as die juffrou dalk bord toe draai en praat of die interkom dalk afgaan.  ‘n Woord of lettergreep word dus nie duidelik deur die kind gehoor nie.  Die brein het die vermoë om die konteks te gebruik om die vermiste deel in te voeg.  Indien ‘n kind probleme ervaar met ouditiewe sluiting gaan hy sukkel om die boodskap of opdrag reg te interpreteer.

 

  • Ouditiewe geheue: Die vermoë om ouditiewe inligting te onthou en in die regte volgorde weer te gee, bv. herhaling van ‘n getalreeks soos mamma of pappa se telefoonnommer of die nommer 183 en nie 138 nie.  Dit is ook belangrik vir die onthou van ‘n opdrag en dit korrek uit te voer en nie dele daarvan uit te los nie.  As juffrou die woord mot klank as m – o – t moet die kind die volgorde van die klanke onthou sodat dit nie as t – o – m geskryf word nie.

Kinders van vandag word aan baie skermtyd blootgestel waar visuele stimulasie grootliks plaasvind.  Ons kinders verleer om staat te maak op suiwer ouditiewe stimulasie omdat dit meestal gepaard gaan met visuele stimulasie.  Ons as ouers kan egter ouditiewe speletjies speel waar ons ons kinders se ouditiewe prosessering verbeter.

Ouditiewe speletjies

  • Ek sien met my klein, klein ogie: Gee leidrade oor ‘n voorwerp in die omtrek totdat jou kind reg raai. Ek sien met my klein, klein ogie iets wat rooi is, dit is vierkantig, dit is sag en dit begin met ‘n k … kussing.
  • Papegaai: Jou kind speel hy is ‘n papegaai wat als naboots wat jy sê.  Gee woorde, nommers of sinne wat jou kind moet terugsê.  Vermeerder die hoeveelheid woorde, nommers en lengte van sinne stelselmatig.
  • Simon says: Gee instruksies wat jou kind moet uitvoer elke keer wanneer Simon die opdrag gee.  Indien hy nie die opdrag gee nie mag jou kind nie die opdrag uitvoer nie anders is hy uit.
  • Tel die aantal handeklappe: Jou kind maak sy oë toe en jy klap jou hande ‘n sekere aantal kere.  Jou kind moet tel hoeveel keer jy geklap het.  Begin met 1 of 2 handeklappe en vermeerder dit stelselmatig.
  • Ja/nee: Vra kort vrae wat jou kind ja of nee moet beantwoord.    Kan honde blaf?  Kan mense blaf?  Kan mense speel? Kan honde speel?
  • Odd one out: Noem 3 woorde waarvan een woord nie pas nie.  Jou kind moet die woord identifiseer en sê hoekom die woord nie pas nie.    Piesang, appel, wortel.  Wortel pas nie want dit is groente.
  • Super speurder: Beskryf ‘n voorwerp en jou kind moet raai wat dit is.    Dit is ‘n meubelstuk, ‘n mens kry dit in die kamer, ‘n mens slaap daarop.  ‘n Bed
  • Inkopielys: Maak ‘n mondelingse inkopielys.  Noem een item. Jou kind moet die item herhaal.  Voeg elke keer nog ‘n item by die lys. Jou kind moet dan elke keer die hele lys herhaal, plus die nuwe item.  Kyk hoeveel items kan jou kind onthou.
  • Wat maak so: Maak ‘n geluid en jou kind moet raai wat die geluid is. Bv. Hoe-hoe – uil; brrrmm – motorkar.  Gebruik verskillende dieregeluide.
  • Wat is fout: Maak ‘n sin op met ‘n fout in.  Jou kind moet die fout identifiseer en korrigeer.    Ek pos die brief in die asblik. 
  • Opbreek van woorde: Gee lang woorde aan jou kind en help hom om die woorde in lettergrepe op te breek.  Dinosourus = di – no – sou – rus.
  • Help die baba: Verduidelik vir jou kind jy gaan soos ‘n baba praat en woorde verkeerd sê.  Jou kind moet jou help om die woord reg te sê.  Laat dan dele van ‘n woord uit en jou kind moet die woord korrigeer.  _amatie = tamatie; appe_ = appel; oli­_ant = olifant. 
  • Liedjies en stories: Speel liedjies en stories op jou radio in die kar waarna jou kind moet luister oppad skooltoe of huistoe.

Geskryf deur:  Hélmien Aucamp
Spraak-Taalterapeut & Oudioloog

B.Kommunikasiepatologie – Cum Laude

Universiteit van Pretoria

083 609 6974

aucamp.helmien@gmail.com

 

Bronne: 

[1]  B.O. Olusanya, V.E. Newton, Global burden of childhood hearing impairment and disease control priorities for developing countries, Lancet 369 (2007) 1314– 1317.

[2]  B.O. Olusanya, A.O. Somefun, D. Swanepoel, The need for standardization of methods for worldwide infant hearing screening: a systematic review, Laryngoscope 118 (2008) 1830–1836.

[3]  D. Swanepoel, S. Ebrahim, A. Joseph, P.L. Friedland, Newborn hearing screening in a South African private health care hospital, Int. J. Pediatr. Otorhinolaryngol. 71 (2007) 881–887.

[4]  L. Mary, M.D. Gavin, Auditory processing disorder factsheet (for schools), https://kidshealth.org/en/parents/apd-factsheet.html