Pas wetenskap in die voorskool?

Wetenskap is ‘n konsep wat vir baie ‘n beeld van ‘n oom in ‘n wit jassie agter glasbotteltjies optower, met druppertjies en bunsenbranders en goed wat van kleur verander, maar is dit al wat wetenskap behels? Kan kleuters regtig wetenskap “doen”? Die antwoord is ‘n definitiewe ja. Daardie omie is nie al waaroor wetenskap gaan nie – dit is oral om ons. Dit is in die kos wat ons eet, die musiek wat ons luister, die huise wat ons bou en die stories wat ons lees en kinders is mal daaroor.

Karen Lind beskryf in haar lesing oor Wetenskap in Vroeë Kinderontwikkeling dat wetenskap ‘n proses is van uitvind en ‘n sisteem skep waarin jy organiseer en rapporteer oor wat jy uitgevind het. Dit is ‘n manier van dink en werk om die wêreld om jou te verstaan ¹. Kleuters maak elke dag met wetenskap kennis, soms
insidenteel of informeel en ander kere deur die begeleiding van ‘n onderwyser. Gestruktureerde wetenskaplessies word weekliks in klaskamers aangebied, maar eenvoudige speletjies in die klaskamer en buite op die terrein ontwikkel ook wetenskaplike konsepte deur spel.

Kan ek my kinders by die huis aan wetenskap blootstel?

Dr. Judy van Heerden van die Universiteit van Pretoria omskryf drie maniere waarop kinders leer van wetenskap ²:
• Insidenteel – iets gebeur wat nie beplan is nie en die opvoeder of ouer maak van die geleentheid gebruik om kennis oor te dra, byvoorbeeld ‘n vreemde troeteldier wat by die skool kom kuier of ‘n nessie wat uit ‘n boom uit waai.
• Informeel – leer deur te speel in die sandput, by die waterbak, met verskeie blokke of apparaat.
• Gestruktureerd – direkte, beplande onderrig deur ‘n opvoeder of ouer met spesifieke kennis waarop daar gefokus word.

As ‘n mens reeds vroeg begin om ‘n liefde te kweek vir wetenskap voel dit nie so oorweldigend wanneer kinders met wetenskap as ‘n studievak begin in die laerskool nie. Wetenskap kan deurlopend pret wees en ‘n vinnige “Google” soektog bied ‘n opbrengs van duisende wetenskapeksperimente wat tuis met kleuters behandel kan word.

Hiermee ‘n paar idees vir uitstappies en speletjies wat wetenskaplike denke aanwakker:

• Stap in die tuin
Om ‘n draai deur die tuin te stap en verskeie goggas, plante en blare van naby te bekyk bied die geleentheid vir kinders (en ouers) om die wêreld anders raak te sien.

• Interessante gediertes
‘n Uitstappie na die naaste troeteldierwinkel kan baie interessant wees, sommige winkels het ‘n verskeidenheid eksotiese diere waaraan min kleuters blootgestel word op ‘n daaglikse basis.

• Wild met water
Om met water te speel is die lekkerste lekker op ‘n warm dag. ‘n Klein bakkie of ‘n swembad vol water bied geleenthede vir afmeting, verspreiding, versorging van plante en selfs idees vir besparing.

• Kook en geniet
Verskeie gaarmaakmetodes is ‘n wonder vir kleuters om te aanskou, ‘n eier in ‘n pan braai, ‘n aartappel in water kook of selfs ‘n malvalekker oor ‘n vlammetjie, onder toesig van mamma of pappa natuurlik.

Verander die persepsie rondom wetenskap vir jou kleuter (en vir jouself) vir altyd deur reeds nou wanneer hulle nuuskierig en lewenslustig is hulle bloot te stel aan die opwindende wêreld van wetenskap. Ontdek, ervaar en geniet!

Bronne:

1. Wetenskap in Vroeë Kinderontwikkeling; Lind 1995

2. WETENSKAP in die kleuterskool en Graad R; Dr Judy van Heerden Dosent: Departement Vroeë Kinderonderwys Universiteit van Pretoria Oktober 2015

Onlangse Bydraes

Kategorieë

Nog Bydraes

Ontvang ons weeklikse nuusbriewe