Matriek, advies vir ouer en kind

Dit voel soos gister wat jy jou Graad 1 kind by die skool afgelaai het, jy was by met elke groot mylpaal, leer lees en skryf, hulle eerste toetsreeks, die sprong Hoërskool toe en uiteindelik staan julle aan die begin van matriek. Daar is so baie vrae en onsekerhede wat deur jou kop maal, is my kind gereed vir matriek, is sy fondasie sterk genoeg en hoe kan ek dit ‘n goeie jaar vir hom maak?

Alhoewel hierdie ‘n nuwe uitdaging vir julle is, is dit goed om te onthou dat julle nie alleen is nie en dat Leeuwenhof Akademie se onderwysers reeds jare se ervaring het as dit kom by hierdie uitdagende finale jaar van skool. Twee van hierdie ervare onderwyseresse is juffrou Esther Nel met 30 jaar ervaring in matriek Wiskunde en juffrou Deliana Kruger met 32 jaar ervaring in matriek Fisiese Wetenskap. Deur die jare het hulle telkemale gesien wat werk en wat werk nie en hoe belangrik dit is vir ouers om hul kinders te verstaan want mens werk op die uiteinde van die dag met ‘n individu.

Volgens Kruger, is die belangrikste om dwarsdeur die jaar die regte balans te handhaaf tussen die slegte spanning van te veel druk om goeie punte te handhaaf en aansoek te doen vir Universiteit en die goeie spanning wat leerders help om hul beste te kan doen en hul tyd goed te gebruik. U kind moet bybly, hulle moet dadelik hul onderwyser vra as iets onduidelik is. By die huis moet hulle weer deur die werk gaan en dit is krities dat hulle hul eie huiswerk moet doen, stoei met die werk en dit hul eie maak. Ma en pa moet terugstaan en kan nie hierdie verantwoordelikheid namens hul kinders dra nie – herinner hulle en prys hulle vir hul goeie werksetiek wat oor die jare ontwikkel is. Ouers kan net ondersteun, verversings aandra en motiveer.  Soms is daar meer motivering nodig, loer in om te kyk wat u kind werklik mee besig is, herinner u kind aan sperdatums van take en maak seker dat daar betyds daaraan begin werk word.

Daar is sekere beginsels wat Nel aanbeveel as deel van u kind se weeklikse roetine, dit sluit in om elke dag by die skool te wees, betyds te wees vir klasse, genoeg tyd in te ruim vir portefeuljewerk (leerders kan baie punte verdien en hulle beheer die uitkoms), ou vraestelle uit te werk en hardop te leer al moet ma en al die troeteldiere in die huis sit en luister. Daar is ook basiese behoeftes vir selfversorging wat aandag moet kry soos ‘n gesonde dieet, baie water drink (los die koffie vir 2 koppies per dag), genoeg slaap en ontspanning (oefening) veral net na skool en tussen studiesessies.

Moenie dat u kind u ‘n gat in die kop praat om elke naweek na sport net te slaap, nog ‘n partytjie by te woon en net gou te ontspan nie. Beide glo dat naweke die ideale tyd is om werk klaar te maak en weer deur werk te gaan wat moeilik was in die week. Beplan wat u kind mag bywoon, wanneer dit geleë is om te sosialiseer en wanneer die foon en rekenaar weggesit moet word, sodat werk die fokus kan wees. Ruim ook genoeg tyd in vir u kind om te rus.

Kruger beklemtoon verder dat ekstra klasse nie altyd die antwoord is nie – as u kind dink hierdie klasse moet die werk in sy/haar kop kry sonder dat daar moeite gedoen word om self daarmee te worstel en uit te vind wat hy nie verstaan nie, gaan dit nie help nie.  Inoefening is wel noodsaaklik vir vakke soos Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde.  Hierdie inoefening kan by die huis of ‘n ekstra klas gedoen word.  Wat wel belangrik is, is dat u kind dit wat dan ontdek en nuut bygeleer word, weer en weer deurgaan totdat dit oorgaan in die langtermyngeheue.

Wanneer dit kom by toetsreekse en eksamen is beplanning uiters belangrik. Nel stel voor dat ‘n studierooster opgestel moet word en daarby gehou moet word, u kind kan ‘n personeellid vra om hulle hiermee te help – 30 jaar plus ervaring kan nogal waardevol wees. Korter sessies oor ‘n lang tydperk is baie meer doeltreffend as lang sessies kort voor die toetsreeks of eksamen. En die belangrikste, vra deurlopend hulp.

Die lewe is maar onvoorspelbaar en daarom is dit belangrik dat u in die agtergrond moet navorsing doen oor die vereistes vir u kind se gekose studierigting en help u kind om die aanlyn aansoek te doen vir plan A, maar ook vir plan B. Ken u kind en watter studierigting by hom/haar sal pas.

Bowenal, glo in u kind – gee liefde en aandag en aanvaarding. Gee maar ‘n drukkie en praat moed in en dra nog ‘n lekkerny aan.  Hierdie belangrike jaar in u kind se lewe is die deur tot sy toekoms, maar u kind se geluk hang af van u liefde en gebed.  Hul lyk en dink dalk dat hulle grootmense is, maar u as ouer bly die belangrikste persone in hul lewe wat leiding moet gee rondom die uitleef van u waardes en normes en wat seker moet maak dat hulle weet dat hulle ondersteun word en aanvaar word.

Sterkte vir hierdie jaar!

Share This Post!

Onlangse Bydraes

Kategorieë

Nog Bydraes

Ontvang ons weeklikse nuusbriewe