|
Dit is so ‘n groot voorreg om vir die eerste keer in hierdie nuwe jaar met u te gesels! Dit is vir ons ‘n vreugde om u en u kleuters by ons skool te hê! Hartlik welkom aan elke nuweling by ons pragtige skool, asook elkeen wat reeds deel is van ons familie!
Mag dit vir u ‘n besonderse jaar vol vreugde, vrede en sukses wees, waar u gedurig bewus is van die seën van die Here wat u omvou. Mag die verbintenis met ons skool vir u ‘n aangename en verrykende ervaring wees! Dit is vir ons baie belangrik dat u kleuter geborge, geliefd en gekoester sal voel in ons midde. Ons sien daarna uit om met u pragtige kleuters te werk. Elkeen van hulle is uniek en spesiaal en ons besef hoe belangrik hul welsyn vir u is. Ons deel graag die volgende belangrike inligting met u:
Skooltye: Daar is elke oggend ‘n personeellid aan diens vanaf 07:00, maar vir die eerste drie dae van die termyn sal al die onderwyseresse in hul klasse wees om die kleuters te ontvang. Aangesien dit vir sommige kleuters ‘n splinternuwe ervaring is, wat hul soms onseker en ‘n bietjie onveilig kan laat voel, wil ons u aanmoedig om hul so gou as moontlik in die sorg van hul bekwame onderwyseres te laat. ‘n Lang afskeid is vir u en die kleuter ‘n uitmergelende ervaring, groet hul en verseker hul van u liefde en maak seker dat hul weet hoe hul van die skool af gaan vertrek. Groet hul dan en vertrek. Ons kan u verseker dat hul sommer vinnig betrokke raak by spel en voor u weet, sal hul huil om by die skool te bly! Weet egter dat ons met simpatie en empatie met u kleuter sal omgaan en u dadelik sal laat weet indien daar ‘n probleem bestaan. Kleuters mag vanaf 13:00 tot 13:15 in die klas gehaal word. Die diens waarvoor u betaal, sluit egter ‘n diens in wat egter duur tot om 16:00 en u is welkom om kleuters dan eers te kom haal. Die diens wat na 16:00 aangebied word, is teen ekstra koste en duur tot 18:00, onder die toesig van me Amanda Uys, ons uiters bekwame naskooldame. (083 458-8357)
Merk van eiendom: Ons skerp daagliks by die kleuters in dat hul hulle eiendom moet oppas en in hul rakkies bêre. Ten spyte daarvan, misplaas hulle tog soms skoene of klere. Om te verseker dat klere nie wegraak nie, vra ons vriendelik, dog dringend, dat dit gemerk sal wees, sommer met ‘n swart viltpen, sodat dit aan die betrokke kleuter terug besorg kan word. Hulle voel onseker wanneer ons vra wie se klere dit is, want dit mag dalk ook aan ‘n ander kleuter behoort. Indien dit gemerk is, is ons en u kleuter in ‘n gunstige posisie om eienaarskap te bewys.
Kosblikkies: Stuur kleuters asseblief skool toe met ‘n gesonde kospakkie. Geen lekkergoed, gaskoeldrank, koek, koekies of skyfies word gedurende die week toegelaat nie. Op Vrydae maak ons ‘n uitsondering en laat toe dat hulle een van bogenoemde bring, maar net ‘n klein porsie, asseblief.
Dagprogram: Ons beplan om u meer oor ons program in te lig, onder andere op die oueraand van 26 Januarie. Daar sal baie op die voorvaardighede vir lees, skryf en wiskunde gefokus word gedurende die jaar. Alle aktiwiteite wat gedurende die dagprogram aangebied word, word deeglik beplan en is daarop gemik om die kind in geheel te help ontwikkel; bv. die ontginning van die tema of konteks, versie oor die tema, (met die doel om later rymwoorde te kan herken), wetenskap, persepsie, omgewingsbewustheid, musiek, bewegingsaktiwiteite, kunsaktiwiteite, konstruksiespel, fantasiespel, hantering van opvoedkundige apparaat, stories, ens. Alle aktiwiteite word onder die koepel van gesyferdheid, geletterdheid en lewensvaardighede aangebied.
Terapeute: Ons het die dienste van kundige terapeute, teen koste tot ons beskikking, indien kleuters enige probleme ondervind.
Buitemuurse aktiwiteite: Verskeie opsionele buitemuurse aktiwiteite word aangebied. Die verskaffers van hierdie dienste sal demonstrasielesse kom aanbied en inligtingsbriefies aan u voorsien, sodat u en u kleuter kan besluit aan watter aktiwiteit hy/sy sal wil deelneem. Ons sal op ‘n later geleentheid ‘n lysie van aktiwiteite aan u verskaf, waarop u u keuse kan aandui, indien van toepassing. Ons beveel egter aan dat ‘n kleuter aan ‘n maksimum van 2, indien enige, aktiwiteite sal deelneem.
Oueraand: Ons eerste oueraand vind op 26 Januarie om 18:30 in ons speelkamer plaas. Die aand word gebruik om inligting oor ons doen en late aan u te verskaf, waarna u u kleuter se onderwyseres in sy of haar eie klassie kan ontmoet, om te hoor wat die prosedures in die klassie is. Ons sien daarna uit om u by die besonderse geleentheid te ontmoet!!
Skoolfonds: Skoolfonds is maandeliks vooruit betaalbaar.
Personeel: Ons is geseën met ‘n besonderse personeel, wat ‘n passie vir onderwys en vir kinders deel. Dit is vir ons elkeen ‘n eer om met u kosbare kinders te werk. Ons stel graag ons onderwyspersoneel aan u voor:
| Onderwyseres: |
Groep: |
Klas: |
| Zuanéll Potgieter |
Gr. 000 |
Hasies |
| Vanessa Wolmarans |
Gr. 000 |
Vissies |
| Jeannine Lamprecht |
Gr. 00
|
Gansies |
| Luitjé Smit |
Gr. 00
|
Dinosourus |
| Tercia van Aswegen |
Gr. 0
|
Miertjies |
| Amanda Breedt |
Gr. 0
|
Kewertjies |
| Margreet Hansen |
Gr. 0
|
Teddiebere |
Kantoor: Wilna van Rooyen Hoof Colette Jacobs Sekretaresse
Nasorgsentrum: Amanda Uys
Benodigdhede:
- Voorsien ons asb. van ‘n onlangse kleurfoto van u kleuter – poskaartgrootte, wat ons in die klasse wil gebruik.
- Indien u fietse of skopfietsies het, wat nie meer deur u kinders gebruik word nie, sal ons dit met ope arms ontvang.
- Ons benodig altyd papier, karton, items wat geplak kan word, afvalmateriaal, knope, kant, lint, gebruikte klere, ou kantgordyne, poppe, enige ander item wat vir u oorbodig geword het. Ons wend dit vir spel en kunsaktiwiteite aan, tot voordeel van elke kleuter.
Korrespondensie: Ons gesels graag met u op ‘n gereelde basis en gaan na hierdie skrywe per e-pos met u kommunikeer, maak dus asb. seker dat ons u korrekte gegewens het, sodat u al die voorskoolnuus kan ontvang. SMS-boodskappe sal ook van tyd tot tyd gebruik word, daarom die noodsaaklikheid dat ons ingelig moet word, indien enige van u nommers verander. Verder word nuusbriewe op ons webblad geplaas, asook voor elke klas en op die muurbord in die voorportaal. U is baie welkom om enige tyd met ons te kommunikeer. Ons verskaf ook maandeliks ons kalender aan u, maar die volledige kalender sal ook op ons webwerf beskikbaar wees.
Aktiwiteite van die eerste termyn: Ons neem deel aan die kaskardag van die laerskool, op 20 Februarie. Verdere inligting hieroor, sal spoedig aan u verskaf word. Op 22 Januarie beplan ons ‘n waatlemoen- en waterfees, waaroor ons u gou meer sal inlig.
Uitsappies en besoekers: ‘n Poppespel word vir hierdie kwartaal beplan, asook ‘n uitstappie aan die einde van die termyn.
Foto’s: Gedurende die week van 15 Februarie, word ons individuele foto’s geneem.
Lief en leed: Dit is vir ons ‘n voorreg om juffrou Zuanéll hartlik geluk te wens met haar verjaarsdag, wat op 2 Januarie plaasgevind het. Ons bede is dat hierdie jaar vir haar besonders sal wees! Juffrou Luitjé het in die vakansie verloof geraak en ons is saam met haar verheug! Die Heer se seën word op hierdie verhouding afgebid. Ons dra graag hiermee ons hartlike gelukwense aan die verloofde paartjie oor!!
Kontak gerus u kleuter se onderwyseres of die kantoor, indien u enige navrae het, ons gesels sommer baie graag met u.
Ons vertrou dat u die jaar 2010, met sokker en al, met oorgawe saam met ons sal geniet! Mag hierdie jaar waarde toevoeg tot u elkeen se lewe en mag u kleuter uitbundig gelukkig wees by ons skool!
Vriendelike groete! Wilna van Rooyen en die Voorskoolpersoneel
Geluk is soos ‘n skaduwee: dit volg jou as jy nie daaraan dink nie. Geluk is soos ‘n ego in die diepte van jou hart: dit antwoord jou as jy van jouself gee. -Phil Bosmans Geluk hang nie af van wat ons het nie, maar van wat ons is.- C Blake Ware geluk is om God te ken. - Johannes Calvyn
|