Hoe werk ek deur hierdie angstige tye?

Met die angs en onsekerheid wat tans in die wêreld heers en gesinne wat angstig sit en wag om uit te vind wat die pad vorentoe inhou, het ons dit goed gedink om ‘n reeks hulpbronne vir die gesin aan mekaar te sit. Dit behels ‘n reeks artikels met raad aan die ouer en die kind tydens hierdie onsekere tye.

Die reeks word vir ons deur Dr. Elzette Fritz (Opvoedkundige Sielkundige), wat al jare lank by Leeuwenhof Akademie betrokke is geskryf. Saam met haar eerste artikel deel sy ook waardevolle bronne vir die ouer wat graag meer wil oplees oor hoe om jouself en jou kind in hierdie tye te beskerm teen die heersende angs en onsekerheid. Leeuwenhof Akademie gee om en wil graag sover moontlik elke gesin bystaan in hierdie tyd.

Hier volg Dr. Fritz se eerste artikel:

Skilpad en Haas: Stadig is soms beter

Redigering – Opvoedkundige sielkundige Linda van Niekerk

Die storie van skilpad en die haas se resies is alombekend. In ‘n tydperk waar dit voel asof die wêreld op sy kop gekeer is, die bekende skielik lewensbedreigend voel en mens toegegooi word met inligting, is dit dalk juis gepas om terug te keer na lewenslesse gevind in die eenvoudige. Met die vooruitsig van kinders wat geleidelik weer terugkeer na Leeuwenhof Akademie, heers daar moontlik konflikterende emosies en gedagtes met die fokus op wat in die beste belang van ons kinders is.

Dr. Elzette Fritz

SKILPAD: Die geskenk van COVID-19 en die grendeltyd was ‘n stadiger lewenspas, ‘n herontdekking van gesinstyd en samesyn en geseënd is dié wat hul huise en huismense as veilig en geborge ervaar het. Kinders het (hopelik) koesterende herinneringe geskep met die toepassing van akademiese kennis in die uitvoer van alledaagse huishoudelike take. Diegene met angstige temperamente (danksy genetika, trauma, lewensomstandighede en/of rol modellering) het die stadige tempo moontlik verwelkom ten spyte van die wrewelrige wonder oor die gevaar buite die huis en die onsekerheid van môre en oormôre.

Die versugting na sosiale interaksie kan egter nie ontken word nie, aangesien gevorderde en komplekse leer juis interpersoonlike kontak vereis. Ouers en versorgers wat die rol van onderwyser oorgeneem het, het spoedig groter waardering vir leerkragte ontwikkel met ‘n moontlike dankbaarheid dat hul onderwyservaardighede nie bepunt word nie. Die ouers wat mekaar (sonder konflik) ondersteun het in die leeropgaaf van hul kind, het moontlik soms gewonder hoe enkelouers die onderrig- en opvoedingstaak bemeester.

Die ouers/versorgers wat in voeling is met hul kind, sou vroeg reeds die werkstempo aangepas het by die kind se ritme in plaas van elke skoolverwante aktiwiteit in ‘n mini-oorlog te verander. Hulle sou ag geslaan het op die vele artikels wat op sosiale media gepubliseer is rakende die aktivering van angs, veral by kinders, en hoe dit hoër kognitiewe funksionering in die voorbrein belemmer. Hierdie ouers sou dus eers hulself tot rustigheid gestem het met dieper asemteue, ‘n laer en stadiger stemtoon, bewuste selfregulering sowel as die nodige afkoeltyd (die maak van ‘n koppie tee by gebrek aan wyn, of ‘n draai in die badkamer) ten einde geaktiveerde, ongereguleerde kinders tot kalmte te lei.

HAAS: Met die wêreld wat geleidelik uit sy dop kruip, is die risiko daar dat angs ’n alomteenwoordige skaduwee kan word soos mense weer hul lewenswedloop hervat… met kinders al slepend agterna.  Reëls en regulasies word ywerig gesirkuleer met die doel om maskers in plek te hou, hande te reinig, sosiale distansie te handhaaf, algemene gesondheid per vraelys af te tik gepaardgaande met die vereistes van die akademiese opgaaf.

‘n Bang haas kan op verskeie maniere reageer: al vlugtend die bosse in; bytend en skoppend op die aanval óf soos ‘n standbeeld vries en tot skyndood oorgaan in die lig van die aankomende gevaar. ‘n Bang haas leer weinig en verstaan nie rede nie en hoe groter die lawaai in die omgewing en hoe meer die res van die bos herwaarts en derwaarts skarrel, hoe meer beangs raak die haas. Hoër kognitiewe denke vereis ‘n breinstam wat nie hoef te fokus op veg, vlug of vries nie sowel as ‘n limbiese (emosionele) brein waar erkenning aan emosies gegee word binne ‘n veilige, ondersteunende sosiale konteks.

‘n Verdere geskenk wat COVID-19 gebring het, is die fokus op die kosbaarheid van lewe, met die wete dat elkeen se resies in die lewenswedloop uiters persoonlik is en nie met ander se wedlope vergelyk kan word nie. Ouers/versorgers en onderwysers se uitdaging in die komende weke en maande gaan wees om hierdie les te onthou sodat hulle nie, met goeie intensies, vir die kinders slaggate grawe weens hul eie vrese nie. Geen kind verdien die las van kommer rakende ‘n ouer se emosionele en fisiese welstand nie.

Lewe en dood het nog altyd hand-aan-hand geloop en dit is reeds bewys dat kinders optimaal leer en ontwikkel binne ‘n veilige, sosiale konteks, waar hul vrae met eerlikheid op ‘n ouderdomstoepaslike wyse beantwoord word. Gevorderde leer geskied waar daar geleentheid is vir foute, ernstige onderwerpe met humor, kreatiwiteit en beweeglikheid aangepak word en waar roetine voorsiening maak vir die enigste móéte in die lewe:

  1. Moet asemhaal – vinniger vir weghardloop en veg, vlak en oppervlakkig vir vries en skyndood, en dieper en egaliger vir hoër kognitiewe funksionering, sosiale kontak en emosionele balans.
  2. Moet eet ten einde die liggaam van die nodige energie te voorsien en die immuniteitstelsel te versterk.
  3. Moet slaap, skilpad dalk meer as haas, veral in die Wintermaande.
  4. Moet piepie en poef (wat ingaan moet uitkom☺)
  5. Moet liefde ervaar en gee. Die mens is nie alleen geskape nie en koesterende fisiese aanraking dra by tot self-regulering en die belewing van geborgenheid.

Mag die kinders van vandag in die toekoms terugkyk na ‘n jaar toe fiksie bewaarheid is en hul ouers/versorgers en onderwysers verby al hul grootmens-vrese gekyk het, ten einde hul kinders se emosionele, kognitiewe, sosiale en spirituele groei te bemagtig.

Onlangse Bydraes

Kategorieë

Nog Bydraes

Ontvang ons weeklikse nuusbriewe