Deur Dr. Elzette Fritz – Opvoedkundige sielkundige

Elke ouer is sekerlik al gekonfronteer met ‘n skreeuende, skoppende kind wat alle oë in ‘n winkelsentrum soos ‘n magneet aantrek. Volpunte vir die ouer wat oor die supermag beskik om kalm, rustig en bedaard die vulkaniese oorvloei van emosies gade te slaan en ‘n veilige ruimte vir ‘n kind te skep sonder dat die kind skade aanrig aan die omgewing of die self. So ‘n ouer het moontlik self ‘n liefdevolle verbintenis met ‘n betekenisvolle volwassene as kind ervaar, moontlik beperkte trauma ervaar en/óf baie geld op terapie spandeer ten einde kapasiteit te ontwikkel vir die reënboog van emosies en die regulering van die intensiteit daarvan. Meestal aktiveer so ‘n ervaring die ouer tot knersende, klappende tier of vries die ouer in ‘n bevrore skaamtepilaar. Die ouer se reaksie hang meestal af van die persoonlikheid, wyse waarop die ouer self gedissiplineer en gelei is tot emosionele selfbeheer, gepaarde met hanteerbare trauma belewings, wat die werking van die sentrale senuweestelsel sal bepaal.

‘n Kind wat disreguleer is nie in staat tot emosionele self-regulering nie, veral nie in die teenwoordigheid van ‘n ouer wat ook ‘n emosionele oorspoel van emosies beleef nie. Soos vuurwerke sal die een se ontploffing die ander een aansteek en ‘n wederkerige kettingreaksie tot gevolg hê. Deur op die kind te skree, te dreig en te klap gaan weinig impak uitoefen op ‘n sentrale senuweestelsel wat soos ‘n sportsmotor se enjin reeds in die rooi draai. Remtrap het katastrofiese gevolge…die spoed moet geleidelik gebreek word wat ‘n vernuftige ouerskapsbestuurstyl vereis.

  1. Die ouer moet dus bewus wees van ‘n versnellende hartklop, ‘n oppervlakkige asemhaling, die behoefte om reaktief te reageer en gepaardgaande emosionele belewing van magteloosheid, frustrasie, woede, skaamte….Daniel Siegel sê, “If you can name the emotion, you can tame it.” Eers nadat die liggaam se reaksie erken is, kan aandag aan denke gegee word en kan die ouer die vraag stel rakende wat moontlik tot die kind se emosionele warboel aanleiding gegee het, bv.
  • Is die gedrag ouderdomstoepaslik? (Emosionele regulering kan nie van ‘n baba, peuter of kleuter verwag word nie.)
  • Speel honger, dors en moeg ‘n rol?
  • Is die kind sintuiglik oorlaai – te harde musiek, te helder ligte, te veel visuele stimulasie?
  • Is jy as ouer geïrriteerd, gefrustreerd, moeg en oorgestimuleer en reageer jou kind op JOU?
  1. ‘n Kalm, dog ferm, stemtoon gaan op die lange duur meer vermag as ‘n geskree.
  2. ‘n Kalm teenwoordigheid met dieper asemhaling en ‘n besadigde stemtoon verseker dat ten minste een persoon soos ‘n volwassene optree.

Straf dra nie by tot self-dissipline nie, dit is ‘n vorm van eksterne motivering terwyl dissipline gemik is op die ontwikkeling van self-dissipline, met die fokus op innerlike motivering. Dit impliseer morele ontwikkeling waar die persoon ‘n onderskeid kan tref tussen aanvaarbare en onaanvaarbare gedrag met inagneming van sosiale konsidererende optrede sowel as oorsaak en gevolg denke. Die dissiplinering van kinders vereis dus dat ouers deurlopend grense aan hul kinders stel op so ‘n wyse dat dit bydra tot die ontwikkeling van morele denke en self-beheer. ‘n Kind met grense wat weet wat om te verwag, voel veilig om binne perke te eksploreer. Ouers moet dus ooreenstem op die wyse waarvolgens hulle self-dissipline en emosionele regulering by hul kinders gaan ontwikkel aangesien dit veral met peuters en kleuters ‘n uitdagende proses behels.

Ek verskaf ‘n paar riglyne vir ouers ten einde mederegulering te vergemaklik:

  1. Skep ‘n warm, koesterende omgewing
  • Ons is ‘n span. Leer kinders dat die een se optrede die ander beïnvloed – met inagneming van kind se ontwikkelingsvlak en begripsvermoë. Ouers en opvoedingsfigure wat saam staan en ‘n hegte span vorm kan mekaar ondersteun wanneer die kind grense toets. Sodoende word ‘n veilige ruimte geskep waar onstuimige emosies begrens is.
  • Respek is wederkerig. Praat met jou kind soos jy wil hê jou kind met jou moet praat – en ook ander. Rolmodellering van selfdissipline en emosionele regulering begin by die ouerlike versorger. Kinders leer aan die hand van fyn waarneming van hul ouers in die alledaagse lewensomgang.
  • Praat sodat jou kind sal luister! ‘n Ouer wat skree en beheer verloor, gaan moontlik een van die volgende reaksies by die kind ontlok – vries, veg of vlug. Die sentrale senuweestelsel van ‘n kind wat bedreig voel word geaktiveer en verhoed rasionele denke. Praat ferm, maar rustig – let op stemtoon en tempo. ‘n Driftige en harde stemtoon mag presies die teenoorgestelde effek veroorsaak.
  1. Struktureer die omgewing – Let op die kind se sintuiglike behoeftes. Sommige kinders se toleransie vir stimulie is groter as ander s’n. Neem in ag wat die kind gewoonlik aktiveer…dit bied soms ‘n leidraad rakende wat ‘n kind kan hanteer in terme van geluide, reuke, velkontak, smake, beweging en visuele beelde. Neem voorts liggaamlike behoeftes in ag – ‘n Honger en moeë kind se luistervaardighede is minimaal. Kinders se liggame reageer vinniger as volwassenes s’n, so om te wag vir kos as bloedsuikervlakke gedaal het, kan angs by ‘n kind veroorsaak wat as aggressie kan voorkom. ‘n Kind wat moeg is, kan geïrriteerd en moedswillig reageer.
  2. Die aanleer van emosionele regulering is ‘n leerproses en vereis baie inoefening
  • Die lewe is nie altyd regverdig nie en soms gaan ons as ouers ons kinders ongelukkig maak indien hul nie hul keuse kry nie. Hulle moet leer in die lewe moet hulle wel aan sekere reëls gehoor gee. Erken die kind se ontevredenheid, maar waak teen ingee weens vrees vir verwerping of die oorvloei van emosies.
  • Konsekwentheid is belangrik. Ouers moet mekaar ondersteun in wat van kinders verwag word, maar mekaar ook bewus maak waar hulle onregverdie optree – afsonderlik van die kind. Sekere takies soos handoeke ophang en borde was en bêre, kan ‘n kind voltooi, net soos grootmense sekere take moet verrig. Dit vereis egter inoefening oor tyd, met inagneming van ouderdomstoepaslikheid en ruimte vir foute sowel as vergeetagtigheid.

Die woord ‘NEE’ is vir die meerderheid kinders soos ‘n rooi vlag.  Oorweeg die volgende alternatiewe vir ‘nee’:

  • trek aandag af – “Kom ons gaan kyk wat gebeur daar.” OF vra ‘n vraag wat nie met die konteks verband hou nie, bv. “Waar koop mens die lekkerste roomys?.
  • keuses – “Soek jy appel- of lemoensap?”
  • wees slimmer as jou kind – antisipeer ‘n probleem en probeer dit verhoed. Leer uit vorige situasies wat tot emosionele oorspoeldheid aanleiding gegee het. Jy weet mos wat gaan gebeur indien jy by die speelgoed- en lekkergoedafdeling verby stap

Elke ouer en opvoedingsfiguur benodig ondersteuning, des te meer in uitdagende tye. Volwassenes wat ondersteuning geniet, staan ‘n groter kans om hul supermag van emosionele regulering in stand te hou en sodoende kinders die nodige mederegulering te bied.

 

Deur Dr. Elzette Fritz – Opvoedkundige sielkundige

Tel: 0833251794

elzettefritz1@gmail.com