Mamma/Pappa weet die beste…of dalk nie….:

Tong-in-die-kies lesse rakende ouerskapstyle soos uitgebeeld in Disney en Pixar kinderrolprente

Watter tipe ouers, of ouer, stuur hul dogtertjie om alleen deur die woud vir ouma eetgoed te neem? Dalk was die ouers te besig met werksaangeleenthede en om kop bo water te hou dat hulle maar in goedertrou vir Rooikappie na ouma gestuur het. Miskien het hulle gedink sy sal meer onafhanklikheid sodoende aanleer want in hul tyd is kinders op ‘n vroeë ouderdom met volwasse verantwoordelikhede grootgemaak en aan hul eie lot oorgedra. Dit is dus te verstane dat Rooi Kappie ‘n maklike prooi vir die wolf was. Onbetrokke ouers se kinders word gekenmerk deur impulsiwiteit wat hul geredelik van die pad ontspoor en sonder ouerlike leiding is hulle blind vir wolf se slagtande.

Die kinders in Mary Poppins, Ariel in The Little Mermaid, sowel as Hiccup in How to train your dragon het ‘n dominerende en outoritêre pa in gemeen. Beide Koning Triton, mnr. Banks en Stoick was beherend en voorskriftelik met geen ruimte vir onderhandelinge of alternatiewe sienswyses nie. ‘n Lae selfbeeld met meer afhanklike gedrag en ‘n belewing van onsekerheid met moontlike konsentrasieprobleme is meestal die gevolg. Geen wonder dat Ariel gedroom het van ‘n lewe van vryheid op land en die Banks kinders heel geredelik in ‘n tekenwêreld saam met Mary Poppins ontsnap het. Hiccup het per toeval en danksy ‘n draak sy eie waagmoed ontdek en ontwikkel.

In Tangled word Rapunzel deur moeder Gothel in ‘n toring toegesluit onder die voorwensel dat dit vir Rapunzel se eie veiligheid is. Haar omgee en beskerming is egter slegs ‘n illusie en net soos Koning Triton, mnr. Banks en Stoick, laat sy geen ruimte vir teëspraak en persoonlike groei en ontwikkeling toe nie. Haar oorbeskerming herinner egter ook aan ouers wat hul kinders toewatte en soos ‘n helikopter oor hul skaduvlieg. Dink aan pa Grug in The Croods, wat les opgesê het om sy adolessente dogter, Eep, in die grot te hou. Die oorbeskermende ouer se vrese en angs word ingeprent in die kind met die oortuiging dat die wêreld ‘n bose en gevaarlike plek is. Sulke kinders is meestal bang om te waag, lei vele kere aan hoë angs wat soms manifesteer in liggaamspyne soos hoofpyn, maagpyn en outo-immuniteitsprobleme. Eep se redding was haar ma, Ugga, en ouma, beide sterk en onafhanklike vroue met waagmoed wat balans gebied het teen pa Grug se neurotiese gedrag.

Al ooit gewonder watter tipe pa Shrek sowel as Donkey vir hul onderskeie kleintjies is? Ek vermoed die tipe wat hul kleintjies aanspoor tot kattekwaad en allerlei streke waar pa en kind ewe veel pret geniet met ‘n ongesproke reël dat ma liefs nie van alles moet weet nie. Mens kan nie help om te vermoed dat Fiona en die draak oorgelaat is met die verantwoordelikheid om grense neer te lê en seker te maak ‘n mate van orde heers midde die gaos nie. Ouers wat permissief is ag ‘n vriendskapsverhouding met hul kinders van meer waarde as die stel van grense en beperkinge. Gevolglik het hulle kinders ‘n oormaat selfvertroue, sien hulself as gelyk aan volwassenes en ervaar probleme om gehoor te gee aan reëls wat ‘n uitdaging in die skoolopset en selfs die samelewing stel. Hul maats hou ook nie noodwendig daarvan om voorgeskryf te word deur ‘n beterweterige te-groot-vir-die-skoene  wysneus nie.

Simba in The Lion King was bevoorreg om sorgsame en demokratiese  ouerskap te geniet met ‘n betrokke, dog ferm Mufasa as pa en liefdevolle Sarabi wat hom veilig en gekoester laat voel het met ‘n gesonde selfkonsep. Alhoewel die dood van sy pa met die gepaardgaande valse beskuldigings van sy oom Scar hom getraumatiseer het, kon sy vermoë tot hegte vriendskappe met Pumba en Timone hom in staat stel om sy onstuimige trauma reaksie te verwerk. Die hegte verbindingsverhouding met sy ouers het hom later jare in staat gestel om sy regmatige leierskapsrol in te neem as Koning van die leeus.

Mens kan nie help om te wonder wat agter die toe deure van Disney en Pixar gesinne plaasvind waar konflikterende ouerskapstyle heers nie. Wanneer ouerlike figure teenoorgestelde ouerskapstyle handhaaf, bevind kinders hulle in die middel en kan verwarring maar ook manipulerende gedrag aangevuur word. Ouers wat mekaar aanvul in hul ouerskapstyle en waar daar ‘n balans heers in die mate van grense wat gestel word gepaardgaande met steminsette vanaf die kind, bied ‘n ruimte van veiligheid en geborgenheid waarin ‘n kind geliefd en gekoester voel.

Gelukkig is kinders meer as die somtotaal van hul ouers se ouerskapstyle. Elke persoon is ‘n skepping van iets magies, gemeng met genetika, ervaringe, rolmodellering sowel as eie vrye wil in die keuses wat gemaak word. Dit is wel die moeite werd om jouself af te vra: Met watter ouer identifiseer jy in die kinderrolprente? Of dalk…Met wie identifiseer jou kind jou…? 

Geskryf deur Dr. Elzette Fritz

Opvoedkundige sielkundige

elzettefritz1@gmail.com

Share This Post!

Onlangse Bydraes

Kategorieë

Nog Bydraes